Ons Ampsbediening vorm die hart van ons onderlinge omgee. Deur die diens van ons leraar, ouderlinge, diakens en wyksleiers word lidmate liefdevol ondersteun, besoek en geestelik begelei.
Ons fokus op die totale mens: liggaamlik, emosioneel én geestelik en wil seker maak dat niemand in die gemeente verlore of afgesonder voel nie.
Die gemeente is verdeel in 27 wyke, elk met ’n hanteerbare aantal besoekpunte, om persoonlike aandag en sorg moontlik te maak. Hierdie wyke is in vier blokke gegroepeer:
Aftree-oorde:
Serenitas en
Gratias
Vrystaatse Versorging in Aksie (VVA)
se sentrum vir bejaardes
Woonbuurtes
in die stad
Digitale lidmate
(persone wat buite Bloemfontein of Suid-Afrika woon, maar steeds deel is van ons geloofsgemeenskap)
Deur gereelde tuisbesoeke en persoonlike kontak word lidmate se behoeftes sensitief en doelgerig aangespreek.
Die blokke vergader vier keer per jaar waar bedieningsuitdagings bespreek word en leiers toegerus word onder leiding van die leraars.
Die Ampsbediening hou ook toesig oor die Voortgesette Teologiese Opleiding (VBO) van die predikante. Jaarliks word verslag gedoen aan die kerkraad en die Ring van Bloemheuwel oor verdere opleiding wat gedurende die jaar voltooi is. Die befondsing van hierdie kursusse word deur die gemeentebegroting gedra.
Maandae - Vrydae | 08:00 -13:00
"Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”
Matteus 28:19 -20 (AFR 2020)